Friedrich Nietzsche – So spreek Saratoestra – Van die boom in die berge

t754f96_0d391b_buecher_-_also_sprach_zarathustra

Saratoestra se oog het gesien dat ´n jongeling hom probeer ontduik. En een aand toe hy alleen deur die berge loop wat die stad omring en die “bont koei” genoem word, kyk, daar kry hy op die pad hierdie jongeling, waar hy sittend teen ’n boom leun en met moeë blik in die dal in staar.

Saratoestra raak die boom aan waarby die jongeling sit, en spreek so:

“As ek hierdie boom met my hande wou skud, sou ek nie daartoe in staat wees nie.

Maar die wind wat ons nie kan sien nie, martel en buig hom waarheen hy wil.

Ons word die ergste van onsigbare hande gebuig en gemartel.”

Die jongeling staan geskok op en sê: “Ek hoor Saratoestra, en het nou-net aan hom gedink”

Saratoestra antwoord:

“Waarom laat dit jou skrik? – Dit gaan tog met die mense soos met die bome.

Hoe meer hy op in die hoogtes en in die lig  in wil, hoe sterker streef sy wortels af aarde toe, onder toe, in die donker dieptes in – in die bose in.

“Ja, in die bose in!” roep die jongeling.  “Hoe is dit moontlik dat jy my siel ontdek het?“

Saratoestra glimlag en spreek:

“Sommige siele sal mens nooit ontdek nie, tensy mens hulle eers uitdink. ”

“Ja, in die bose in!” roep die jongeling nog ´n keer.

“Jy praat die waarheid, Saratoestra. Vandat ek die hoogtes in wil, vertrou ek myself nie meer nie; niemand vertrou my meer nie. Hoe kom dit?

Ek verander te vinnig: My vandag weerlê my gister. Dikwels oorspring ek die trappe as ek klim – en dít vergewe geen trap my nie.

As ek bo is, is ek altyd alleen. Niemand praat met my nie, die ryp van eensaamheid laat my sidder. Wat soek ek tog in die hoogtes?

My minagting en my verlange groei saam; hoe hoër ek klim, hoe meer minag ek hom wat klim.

Wat soek hy tog in die hoogtes?

Hoe skaam ek my vir my klim en struikel! Hoe spot ek my gesnuif. Hoe haat ek die vlieëndes.

Hoe moeg is ek in die hoogtes!”

Hier swyg die jongeling. En Saratoestra besigtig die boom, waarby hulle staan, en spreek só:

“Hierdie boom staan eensaam hier in die gebergtes, hy groei hoog bo mens en dier verby.

En as hy wou praat, sou hy niemand hê wat hom sou kon verstaan nie: so hoog groei hy.

Nou wag hy en wag. Waarvoor wag hy tog? Hy woon naby die sitplek van die wolke. Wag hy   dalk vir die eerste blits?”

As Saratoestra dit gesê het, roep die jongeling met heftige gebare:

“Ja, Saratoestra, jy praat die waarheid. Na my ondergang het ek verlang toe ek die hoogtes wou in, en jy is die blits waarvoor ek gewag het! Kyk, wat is ek tog vandat jy hier aan ons verskyn het? Die nyd teenoor jou is wat my ontspoor het.”

So het die jongeling gespreek en bitterlik geween. Maar Saratoestra het sy arm om hom gelê en hom saam met hom weggelei.

En nadat hulle ’n rukkie saam geloop het, hef Saratoestra aan en spreek:

“Dit breek my hart. Beter as wat jou woorde dit vertel, vertel jou oë my van al jou gevaar.

Jy is nog nie vry nie, jy soek nog na vryheid. Oormoeg maak jou soektog jou, en té wakker.

In die vrye hoogtes wil jy, jou siel dors na sterre. Maar jou slegte drange dors óók na vryheid. Jou wilde honde wil die vryheid in, hulle blaf van lus in hulle kelder as jou gees daarna verlang om alle gevangnisse op te los.

Vir my is jy nog ’n gevangene, wat sy vryheid bedink. Ag, slim word so ’n gevangene van die siel, maar ook bedrieglik en sleg.

Homself reinig moet die bevryde van gees nog. Baie gevangenis en gemors is nog in hom oor: rein moet sy oë nog word.

Ja, ek ken jou gevaar. Maar by my liefde en hoop besweer ek jou: gooi jou liefde en hoop nie weg nie!

Jy voel nog edel en ook vir die ander voel jy nog edel, hulle wat op jou toornig is en jou bose blikke stuur. Weet dat almal in ’n edele se pad staan.

Ook die goeies staan in die edele se pad: en selfs as hulle hom ’n goeie noem, is dit omdat hulle hom daardeur tersyde wil stel.

Nuwe dinge wil die edele skape en ’n nuwe deug. Ou dinge wil die goeies hê, en dat ou dinge behoue bly.

Maar die gevaar vir die edele is nie dat hy ’n goeie word nie, maar ’n astrante, ’n spotter, ’n verwoester.

Ag, ek het edeles geken. Hulle verloor hulle hoogste hoop. En nou belaster hulle alle hoë hoop.

Nóú leef hulle astrant in kort luste, en naas vandag het hulle skaars nog doelwitte.

“Gees is ook wellus” – so sê hulle. Só breek die vlerke van hulle gees af: Nou kruip hy rond en bevlek aan’t knaag.

Op ’n tyd wou hulle helde word: Nou is dit eienaardig – ‘n verdriet en ’n verskrikking is ’n held vir hulle.

Maar by my liefde en hoop besweer ek jou: gooi die helde in jou siel nie weg nie. Hou jou hoogste hoop heilig!

So spreek Saratoestra.

Comments are closed